|
Mnr onbekend
My vrou wil my los, het planne vir egskeiding. Ek weet nie wat om te doen om haar te behou nie. Ek het haar jare gelede aangerand maar sy hou dit teen my, sê sy het haar liefde vir my verloor.
Ek wil jou graag vandag bemoedig en sê daar is hoop as jou vertroue in God geplaas word. Jy wil baie graag jou vrou behou maar weet nie hoe nie. Sy het kwansuis haar liefde vir jou verloor. Sy het moontlik haar respek vir jou verloor a.g.v. die aanrandings. Dit was jare gelede. Jy het berou oor dit wat jy gedoen het. Jy het haar om vergifnis gesmeek. God het jou vergewe. Ek hoop dat sy dit in haar hart kan regkry om die bitterheid te laat gaan.
Ja, dit is so, die mens kry 'n versadigingspunt wanneer hulle genoeg gehad het en nie meer wil aangaan nie. Die persoon wat mishandel word, vind dit baie moeilik om uit die put uit op te staan, net soos wat dit gewoonlik moeilik is om die patroon van mishandeling te verbreek.
Met elke insident word mure van beskerming gebou om die mens teen seerkry te bewaar. Dikwels word die mure wat gebou word so dik, dat die gevoelens na die onderbewussyn weggestuur word, net om te kan oorleef.
Wat kan jou saak verbeter? Net God en Sy genade wat onherroeplik groot is en herstel kan bewerk. Meneer onbekend, gryp Hom vas en plaas jou vertroue op Hom Alleen. maar kom ook vry van die kinderjare wat soos 'n spook elke keer na vore kom, juis dit wat jou ingehaal het. Ek bid dat jou vrou die berou in jou raaksien en dat God haar hart teenoor jou sal versag. Ek bid dat jy verewig klaarmaak met gister en met die verlede en met alles wat daartoe aanleiding gegee het. Ek weet hoe lank jy al berou toon en om hulp soek en dag na dag word jy nou herinner aan dit wat jy gedoen het. Neem jou pakkie na die kruis van Jesus en los dit daar en draai om en stap weg maar intussen vra jy Skrif en begin om die Woord wat God vir jou gee, oor jou situasie uit te spreek, lewe in die plek van die dood!
Hoe maak ek klaar met my verlede?
Maak 'n lys van al jou sondes : Alles wat jy verkeerd gedoen het
Maak 'n lys van alles wat ander aan jou gedoen het.
Gaan nou deur elke een van die punte wat jy op jou lysies aangebring het. Vir lys no 1 vra jyself vergifnis en vra dat die Here vergifnis in elke een se harte aanbring teenoor wie jy onreg gedoen het.
Vir lysie no 2 vra jy dat die Here jou help en begin om hardop teenoor elke persoon vergifnis uit te spreek: "Piet, ek vergewe jou vandag vir .... wat jy aan my gedoen het."'
Maak seker dat jy alle emosies ten opsigte van elke saak laat gaan deur dit uit te spreek. "Ek laat gaan nou bitterheid teenoor hom, Here help my om dit neer te lê."EK laat gaan die pyn, die seer, die hartseer, die vernedering, die woede, die haat, die agressie.......
As jy klaar is met elke emosie, dan draai jy om en stap weg die toekoms in! Voorspoed!
|